En Sarai het vir Abram gesê: Jy weet die HERE het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister.
Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin - nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het - en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees.
En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy swanger was, het haar juffrou veragtelik in haar oë geword.
En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek het my slavin in jou skoot gegee, en noudat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou.
En Abram antwoord Sarai: Daar's jou slavin in jou hand - doen met haar soos dit goed is in jou oë. Toe het Sarai haar slag behandel, en sy het van haar af weggevlug.
Ook sê die Engel van die HERE vir haar: Kyk jy is swanger en sal ʼn seun baar, en jy moet hom Ismael noem, want die HERE het jou in jou ellende verhoor.
En hý sal ʼn wilde-esel van ʼn mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon.
En toe noem sy die Naam van die HERE wat met haar gespreek het: U is ʼn God wat sien. Want sy hat gesê: So het ek Hom dan werklik hier van agter gesien wat my sien!