Afrikaans-1933/2/3

23 lines
3.6 KiB
Plaintext
Raw Normal View History

2021-09-25 15:11:50 +00:00
En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro,die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter in die woestyn gedryf het, kom hy by die berg Horeb.
Daarop versykn die engel van die HERE aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!
En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbbbos nie verbrand nie.
Toe die HERE sien dat hy nuuskierig naderkom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek.
En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan is heilige grond.
Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.
En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja Ek ken hulle smarte.
Daarom het Ek afgekom om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle op te bring na 'n goei en wye land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Ferestiete en Hewiete en Jebusiete.
En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by my gekom. Ook het Ek die verdruking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.
Gaan dan nou heen, dat ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.
Maar Moses sê aan God: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?
2021-09-25 15:11:50 +00:00
En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dít sal vir jou 'n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte lei sal julle op hierdie berg God dien.
Hierop sê Moses aan God: Maar as ek by die kinders van Israel kom en vir hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam?-wat moet ek hulle antwoord?
En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.
Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob het my na julle gestuur; dit is my naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.
Gaan heen en versamel al die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: Ek het deeglik ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is.
Daarom het Ek besluit: Ek wil julle uit die ellende van Egipte opbring na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Ferestiete en Hewiete en Jebusiete, na die land wat oorloop van melk en heuning.
En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan, en julle moet vir hom sê: Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet, laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE, onse God, offer.
Maar Ék wet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur 'n sterke hand nie.
En Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister wat Ek daarin sal doen; en daarna sal hy julle laat trek.
En Ek sal hierdie volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars; en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie.
maar elke vrou moet aan haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer goed en goue goed en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit en hulle so berowe.