Dan moet jy die tafel inbring en daarop regsit wat daarop behoort. Jy moet ook die kandelaar inbring en sy lampe opsteek.
En jy moet die goue altaar vir die reukwerk voor die ark van die Getuienis neersit. Dan moet jy die bedekking van die ingang van die tabernakel ophang.
Jy moet ook die brandofferaltaar voor die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neersit.
En jy moet die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar sit en daar water in gooi.
En maak die voorhof rondom, en hang die bedekking aan die poort van die voorhof op.
Dan moet jy die salf-olie neem, en jy moet die tabernakel salf en alles wat daarin is, en dit heilig met alles wat daarby behoort; en dit sal heilig wees.
Jy moet ook die brandofferaltaar salf met al sy gereedskap, en jy moet die altaar heilig, en die altaar sal hoogheilig wees.
Salf dan die waskom en sy voetstuk, en heilig dit.
Jy moet ook Aäron en sy seuns laat naderkom, na die ingang van die tent van samekoms toe, en jy moet hulle met water was.
Trek dan Aäron die heilige klere aan; en salf hom en heilig hom, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.
Salf hulle dan, soos jy hulle vader gesalf het, dat hulle vir My die priesteramp kan bedien. En hul salwing moet vir hulle ʼn ewige priesterskap in hulle geslagte wees.
En Moses het gedoen net soos die HERE hom beveel het; so het hy gedoen.
En Moses het die tabernakel opgerig: hy het sy voetstukke neergesit en sy style daarop gesit en sy dwarshoute vasgemaak en sy pilare opgerig.
En hy het die tentseil oor die tabernakel gespan en die dekkleed van die tent daarbo-oor getrek, soos die HERE Moses beveel het.
Verder het hy die Getuienis geneem en dit in die ark neergelê en die draaghoute aan die kant van die ark ingesteek, en die versoendeksel het hy bo-op die ark gesit.
Toe het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel tot bedekking opgehang en die ark van die Getuienis bedek, soos die HERE Moses beveel het.
En hy het die brandofferaltaar by die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neergesit, en hy het daarop die brandoffer en die spysoffer gebring, soos die HERE Moses beveel het.
Hy het ook die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar gesit, en hy het daar water in gegooi om mee te was.
Hy het ook die voorhof opgerig, rondom die tabernakel en die altaar, en die bedekking vir die poort van die voorhof opgehang. So het Moses dan die werk klaargemaak.
Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die HERE het die tabernakel vervul,
sodat Moses nie kon ingaan in die tent van samekoms nie, omdat die wolk daarop gerus en die heerlikheid van die HERE die tabernakel vervul het.