My gees is verward, my dae is uitgeblus, die graf wag vir my.
Waarlik, bespottinge is my deel, en op hulle getwis moet my oog rus.
Gee tog ʼn pand, staan borg vir my by U; wie anders sal my die handslag gee?
Want U het húlle hart gesluit vir verstand; daarom sal U hulle nie laat triomfeer nie.
Hy wat vriende aanklaag vir ʼn buitaandeel - die oë van sy kinders sal versmag.
Maar Hy het my ʼn spreekwoord vir die mense gemaak, en ek het een geword wat hulle in die gesig spuug.
Daarom het my oog dof geword van verdriet, en al my lede is soos ʼn skaduwee.
Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die goddelose in opstand.
Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag.
Maar, kom maar altyd weer aan, julle almal! ʼn Wyse vind ek onder julle tog nie.
My dae is verby, my planne tot niet, die wense van my hart.
Van die nag maak hulle ʼn dag; lig, sê hulle, is naby vanweë die duisternis.
As ek hoop, is die doderyk my huis; in die duisternis sprei ek my bed uit.
Die grafkuil roep ek toe: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster.
En waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ondek dit?
Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.