Toe kon Josef hom nie langer bedwing nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom. Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle naderkom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ʼn oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ʼn groot verlossing. Júlle het my dan nou nie heirheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ʼn raadsman van Farao gemaak en ʼn gebieder oor sy hele huis en ʼn regeerder in die hele Egipteland. Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: God het my ʼn gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie! En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit. En ek sal u daar onderhou, want saar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort.