Afrikaans-1933/1/41

58 lines
7.0 KiB
Plaintext

Ná verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy staan by die Nyl;
en kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en vet van vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
En ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat lelik van aansien en maer van vleis was, en hulle het gaan staan by die ander koeie op die wal van die Nyl.
En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword.
En hy het weer aan die slaap geraak en nog ʼn keer gedroom; en kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel;
en ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroeid was;
en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was ʼn droom!
Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit vir Farao uitlê nie.
Toe spreek die voorman van die skinkers met Farao en sê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring.
Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers.
En ons het in dieselfde nag ʼn droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen ʼn droom met besondere betekenis.
En daar was by ons ʼn Hebreeuse jongman, ʼn kneg van die owerste van die lyfwag - aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; van elkeen se droom het hy die uitlegging gegee.
En soos hy ons die uitgelê het, so het dit gebeur - my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang.
Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal en hom geskeer en hom ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.
Toe sê Farao vir Josef: Ek het ʼn droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ʼn droom net hoef te hoor om dit uit te lê.
En Josef antwoord Farao en sê: Nee, nie ek nie! God sal Farao ʼn gunstige antwoord gee.
Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl,
en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
En ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uierlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie.
En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet:
die het in hulle maag ingegaan, maar ʼn mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword.
Darna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel.
En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroeid was;
en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die toewenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.
Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.
Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; een droom is dit.
En die sewe maer en lelike koeie wat na hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jaar vna hongersnood wees.
Dit is die woord wat ek vir Farao gesê het - wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien.
Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland;
maar daarna sal sewe jaar van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hondersnood sal die land verteer.
En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.
En wat betref dat die droom tweemaal vir Farao herhaal is - dit is omdat die saak duer God vas besluit is en God dit gou sal doen.
Laat Farao dan nou uitkyk na ʼn verstandige en wyse man, en hom aanstel oor Egipteland.
Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en die vyfde deel van die opbrings van Egipteland hef in die sewe jaar van oorvloed.
En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre.
So sal dan die veodsel ʼn voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie.
En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars.
Toe sê Farao vir sy dienaars: Kan ons iemand kry soos hierdie man in wie die Gees van God is?
En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.
Jý moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.
Verder sê Farao vir Josef: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.
Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang
en hom laat ry op sy twede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Kniel! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel.
En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet verroer in die hele Egipteland nie.
En Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag en aan hom Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland.
En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland duergetrek.
En die land het met volle hande opgebring in die sewe jare van oorvloed.
Toe het hy al die voedsel van die sewe jare versamel wat in Egipteland gekom het, en voedsel in die stede weggesit - die voedsel van die land wat rondom elke stad was, het hy daarin weggesit.
So het Josef dan ʼn menigte koring opgehoop soos die sand van die see totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar.
En vir Josef is twee seuns gebore - voor die jaar van hongersnood gekom het - wat Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het.
En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.
En die twede een het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.
Toe het die sewe jare van oorvloed wat daar in Egipteland was, op ʼn end gekom,
en die sewe jare van hongersnood het begin aankom soos Josef voorspel het. En daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood.
En toe die hele Egipteland honger gely, en die volk na Farao geroep het om brood, sê Farao vir al die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen wat hy vir julle sê.
En die hongersnood was oor die hele land, en Josef het alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop; en die hongersnood was swaar in Egipteland.
En die hele wêreld het na Josef gekom in Egipte om koring te koop, want die hongersnood was swaar op die hele aarde.