Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek.
Luister, luiser na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.
Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde.
Daarna brul 'n stem: Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie.
God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.
Want Hy sê vir die sneeu: Val op die aarde! ook vir die reënbui, ja sy geweldige reënbuie.
Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het.
Dan gaan wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke.
Uit die kamer kom die stormwind, en deur wolkverstrooiers koue.
Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte.
Ja, met volheid van waters belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk;
en dit draai in die rondte volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond.
Of tot 'n tugroede, of tot nut van sy aarde, of tot weldadigheid laat Hy dit tref.
Luiser hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God.
Begryp u hoe God hulle bevel gee en die lig van sy wolk laat flikker?
Begryp u iets van die gesweef van die wolke, van die wonders van die Volmaakte kennis?
U, wie se klere warm word as die aarde stil is vanweë die suidewind -
kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat vas is soos 'n gegote spieël?
Onderrig ons wat ons vir Hom moet sê: ons kan niks voorbring vanweë die duisternis nie.
Moet dit Hom vertel word dat ek wil spreek? Of het iemand ooit gesê dat hy vernietig wil word?
En nou, 'n mens kan die lig nie aansien wat helder is in die hemel as die wind verbygegaan en dit skoon gemaak het nie.
Uit die noorde kom goud; maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit.
Die Almagtige - ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie.
Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.