Afrikaans-1933/1/37

23 lines
2.9 KiB
Plaintext

En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän.
Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as ʼn seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers - hy was nog jonk - saam met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerugte oor hulle na hulle vader oorgebring.
En Israel het Josef meer liefgehad as al sy seuns; want hy was vir hom ʼn seun van die ouderdom; en hy het vir hom ʼn lang rok met moue gemaak.
Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhad, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.
Ook het Josef ʼn droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.
Hy het naamlik wit hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.
Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook reg-op blý staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.
Toe sê sy broers vir hom: Wil jy miskien oor ons regeer? of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.
Daarna het hy nog ʼn ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ʼn droom gehad - die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.
Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en vir hom gesê: Wat is dit vir ʼn droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?
En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.
En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.
Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na julle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!
Toe sê hy vir hom: Gaan tog kyk na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my weer berig. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.
Daarop kry ʼn man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy?
En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.
Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gekry.
En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.
En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan!
Kom dan nou, laat ons hom doodslaan en in een van die putte gooi en sê: ʼn Wilde dier het hom opgeët. Dan sal ons sien wat van sy drome word.
Toe Ruben die hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie.
Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie - sodat hy hom uit hulle hand kan red om hom na sy vader terug to bring.