Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ʼn mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit.
En sy suster het op ʼn afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur.
En Farao se dogter het na die Nyl toe afgegaan om ʼn bad te neem terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer loop. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal.
Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was ʼn seuntjie wat huil! En sy het jammer vir hom gehad en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs.
Toe sê sy suster vir Farao se dogter: Sal ek vir u ʼn pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan laat drink?
Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom laat drink.
En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek.
En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het gesien hoe ʼn Egiptiese man ʼn Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan.
En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom in die sand begrawe.
Die volgende dag het hy weer uitgegaan, en daar was twee Hebreeuse manne wat met mekaar veg. Hy sê toe vir die een wat ongelyk gehad het: Waarom slaan jy jou naaste?
En hy antwoord: Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar doodgeslaan het? En Moses het gevrees en gesê: Waarlik, die saak het bekend geword!
En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by ʼn put gesit.
En die priester van Mídian het sewe dogters gehad: dié het gekom om te put en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink.
En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.