En die volk het hulle beklaag voor die ore van die HERE dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. Daarom het hy die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. En die gemengde bevolking wat onder hulle was, het baie begerig geword. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoflok. Maar nou is ons siel dor; daar's glad niks nie: net manna is voor ons oë. Die manna was soos koljandersaad en dit het gelyk na balsemgom. Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeules gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvna was soos die smaak van oliekoeke. En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval. Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die vuur van sy tent hoor ween; en die toorn van die HERE het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses. En Moses sê vir die HERE: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen, en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat u die las van hierdie hele volk op my lê? Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ʼn oppasser die suigling dra, na die land U aan hulle vaders met ʼn eed beloof het? Waarvandaan moet ek vleis kry om vir al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vles dat ons kan eet. Ek alleen kan hierdie volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. En as U so met my wil handel, slaan my dan liewers dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.