diff --git a/19/31 b/19/31 new file mode 100644 index 0000000..8329e6e --- /dev/null +++ b/19/31 @@ -0,0 +1,25 @@ +Vir die musiekleier. ʼn Psalm van Dawid. +By U, o HERE, skuil ek; laat my nooit nie beskaamd staan nie. Bevry my deur u geregtigheid. +Neig u oor tot my, red my tog gou; wees vir my ʼn rots om in te vlug, ʼn baie vaste huis om my te verlos. +Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en my bestuur. +U sal my laat uitgaan uit die net wat hulle vir my gespan het, want U is my toevlug. +In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou. +Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ek vertrou op die HERE. +Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het +en my nie oorgelewer het in die hand van die vyhand nie; U het my voete in die ruimte laat staan. +Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam. +Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit. +Vanweë al my teëstanders het ek ʼn voorwerp van smaad geword, ja grootliks vir my bure, en ʼn voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af. +Ek is vergeet uit die die hart, soos ʼn dooie; ek het geword soos ʼn ding wat lê en vergaan. +Want ek het die skindertaal van baie gehoor - skrik rondom! - terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem. +Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God. +My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyhande en van my vervolgers. +Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid. +HERE, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk! +Laat die valse lippe stom word wat onbeskaamd spreek teen die regverdige, in trotsheid en veragting. +o Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders! +U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense: U steek hulle weg in ʼn hut vir die twis van die tonge. +Geloof sy die HERE, want Hy het sy goedertierenheid aan my wonderlik gemaak, in ʼn vaste stad. +Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp. +Julle moet die HERE liefhê, al sy gunsgenote! Die HERE bewaar die getroues en vergeld hom oorvloedig wat trots handel. +Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag!