Vir die musiekleier; met snaarinstrumente.ʼn Psalm van Dawid. As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed! o Manne, hoelank sal julle my eer tot skande wees? hoelank sal julle die nietegheid liefhê, die leuen soek? Sela. Weet tog dat die HERE vir Hom ʼn gunsgenoot afgesonder het; die HERE hoor as ek Hom aanroep. Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil. Sela. Offer offerhandes van geregtigheid en vertrou op die HERE. Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef oor ons die lig van U aangesig, o HERE! Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is. Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.