Vir die musiekleier. ʼn Psalm van Dawid, toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartighede. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Kyk, U het ʼn welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U wysheid aan my bekend. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ʼn vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ʼn gees van vrymoedigheid. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjuibel. Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in die brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ʼn gebroke gees; ʼn gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Doen goed aan Sion na welbehae; bou die mure van Jerusalem op. Dan sal U ʼn welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hul stiere offer op u altaar.