Ek het ʼn verbond gemaak met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ʼn jonkvrou? Want tog is die lot van God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes? - Is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie? Sien Hý nie my weë, en tel Hy nie al my voetstappe nie? As ek met leuns omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog: laat Hy my dan weeg op ʼn regte weegskaal, sodat God my vroomheid kan weet! As my gang afgewyk het van die weg, en my hart agter my oë aangegaan het, en aan my hande ʼn vlek kleef - laat my dan saai en ʼn ander een eet, en my uitspruitsels ontwortel word. As my hart verlok was oor ʼn vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste - laat dan my vrou vir ʼn ander een maal en ander hulle oor haar buig. Want dit is ʼn skandelike daad, en dit is ʼn strafbare misdaad. Ja, dit is ʼn vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbringste sou ontwortel. As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle ʼn geskil gehad het met my - wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen? Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie? As ek die armes ʼn versoek geweier het, en die oë van die weduwee laat versmag het; en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet; (veelmeer het hy van my jeug af by my groot geword soos by ʼn vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!) as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie; as sy lende my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie; as ek my hand teen ʼn wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het - laat dan my skouer van die nek afval en my arm van die pyp afgebreek word. Want die ondergang wat God bewerk, was ʼn skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig. As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! as ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het; as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn, en die maan wat so pragtig daarheen gaan, en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle ʼn kus toegewerp het - ook dit sou ʼn strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het. As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het; (ja ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur ʼn vloek sy lewe te vorder nie!) as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspyse nie versadig is nie? Die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe. As ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek, omdat ek bang was vir die groot menigte, en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie - ag, as iemand my maar wou aanhoor! kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het - waarlik, op my skouer sou ek dit dra; ek sou dit my ombind as ʼn krans. Die getal van my voetstappe sou ek Hom te kenne gee; as ʼn vors sou ek na Hom toe aankom. As my saailand my aanklaag en sy vore almal saam ween; as ek sy opbrings geëet het sonder betaling en die lewe van sy eienaar uitgeblaas het - laat dan distels inplaas van koring uitspruit en onkruid inplaas van gars. Hier eindig die woorde van Job.