Afrikaans-1933/1/21

35 lines
3.9 KiB
Plaintext

En die HERE het Sara besoek soos hy beloof het; en die HERE het aan Sara gedoen soos Hy gespreek het;
Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom ʼn seun gebaar op die bepaalde tyd wat God gesê het.
En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem.
En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het.
En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is.
En Sara het gesê: God het my ʼn gelag gemaak: elkeen wat dit hoor, sal oor my lag.
Verder sê sy: Wie kon ooit aan Abraham voorspel het: Sara soog kinders? Want ek het ʼn seun gebaar in sy ouderdom.
En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het ʼn groot maaltyd klaargemaak op die dag toe Isak gespeen is.
Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot;
en sy sêVir Abraham: Jaag hierdie slavin en heer seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.
En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun.
Maar God het vir Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë terwille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou ʼn nageslag genoem word.
Maar ek sal ook die seun van die slavin tot ʼn nasie maak, omdat hy jou kind is.
Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en ʼn sak water geneem en dit vir Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgewandel in die woestyn van Berséba.
En toe die water in die sak op was, het dy die kind onder een van die bosse neergewerp
en geloop en op ʼn afstand gaan sit so ver as ʼn boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil nie die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op ʼn afstand gaan sit en haar stem verhef en geween.
Toe hoor God dir stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en vir haar gesê: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.
Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ʼn groot nasie maak.
Daarop het God haar oë geopen, en sy sein ʼn put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.
En God was met die seun; en hy het opgegroei en gewoon in die woestyn en ʼn boogskutter geword:
hy het gewoon in die woestyn Paran; en sy moeder het vir hom ʼn vrou uit Egipteland geneem.
In dié tyd het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, met Abraham gespreek en gesê: God is met jou in alles wat jy doen.
Sweer dan nou vir my hier by God dat jy met my en my kroos en my nageslag nie vals sal handel nie; dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys en aan die land waarin jy as vreemdeling vertoef.
En Abraham antwoord: Ek sweer.
Maar Abraham het Abiméleg aangespreek oor ʼn put wat die dienaars van Abiméleg met geweld geneem het.
Daarop antwoord Abiméleg: Ek weet nie wie dit gedoen het nie, en jy het my die ook nie meegedeel nie, en ek daar ook niks van gehoor nie as net vandag.
Toe neem Abraham kleinvee en beeste en gee dit aan Abiméleg; en hulle twee het ʼn verbond gemaak;
Abraham het naamlik die sewe ooilammers van die kleinvee apart uitgekeer.
Toe sê Abiméleg vir Abraham: Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy uitgekeer het?
En hy antwoord: Die sewe ooilammers moet jy uit my hand uit aanneem, sodat dit vir my ʼn getuienis kan wees dat ek hierdie put gegrawe het.
Daarom noem hulle hulle die plek Berséba, omdat hulle twee daar gesweer het.
So het hulle dan ʼn verbond gemaak in Berséba. Daarna het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, klaargemaak en na die land van die Filistyne teruggegaan.
En hy het ʼn geelhuotboom in Berséba geplant en daar die Naam van die HERE, die ewige God, aangeroep.
En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef.