Afrikaans-1933/1/27

47 lines
5.8 KiB
Plaintext

Toe Isak oud geword het en sy oë swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun! En hy het hom geantwoord: Hier is ek!
Toe sê hy: Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie.
Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit in die veld en jag vir my ʼn stuk wild
en maak wir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê; en bring dit wir my om te eet; sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe.
En Rebekka het geluister tewyl Isak met sy seun Esau spreek. En Esau het in die veld gegaan om ʼn stuk wild te jag en dit te bring.
Toe het Rebekka met haar seun Jakob gespreek: Kyk, ek het jou vader met jou broer Esau hoor spreek en sê:
Bring vir my ʼn stuk wild en maak vir my lekker ete, dat ek kan eet en jou kan seën voor die aangesig van die HERE voor my dood.
My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel.
Loop nou na sie kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek daarvan vir jou vader ʼn lekker ete kan maak soos hy dit graag wil hê.
Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan seën voor sy dood.
Toe sê Jakob vir sy moeder Rebekka: Kyk, my broer Esau is ʼn harige man, en ek is ʼn gladde man.
Miskien sal my vader my betas, en ek sal in sy oë wees soos ʼn spotter; so sou ek dan ʼn vloek oor my bring en nie ʼn seën nie.
Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees, my seun! Luister net na my en gaan haal dit vir my.
Toe het hy dit gaan haal en vir sy moeder gebring. En sy moeder het daarvan ʼn lekker ete gemaak soos sy vader graag wou hê.
Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan;
en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van sy nek,
en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Jakob, haar seun.
Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun?
En Jakob sê vir sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Lig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën.
Toe vra Isak sy seun: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy antwoord: Omdat die HERE u God dit my laat teëkom het.
En Isak sê vir Jacob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy waarlik my seun Esau is of nie.
En Jakob het nadergekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hand.
Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy breor Esau se hande; en hy het hom geseën.
Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy aantwoord: Ja.
Toe sê hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my seil jy kan seën. En hy het dit vir hom nadergebring, en hy het geeët. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink.
Daarop sê sy vader Isak vir hom: Kom tog nader en soen my, my seun!
En hy het nadergekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy seën hom en sê: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat die HERE geseën het.
En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos.
Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ʼn heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd is hulle wat jou seën.
Maar toe Isak Jakob klaar gesien het, en Jakob nog skaars van sy vader Isak weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af,
en hý maak ook ʼn lekker ete en bring dit na sy vader en sê vir sy vader: Laat my vaderhom oplig en eet van die wildsvleisvan sy seun, sodat u siel my kan seën.
En sy vader Isak vra hom: Wie is jy? En hy antwoord: Ek is u seun Esau, u eersgeborene.
Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het en hom geseën - ook sal hy geseënd bly!
Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met ʼn baie groot en bitter geroep, en hy sê vir sy vader: Seën mý ook, my vader.
En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën wegeneem.
Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?
Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir jόu doen, my seun?
En Esau vra vir sy vader: Het u net een seën, my vader? Seën my ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween.
Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo.
En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan sal jy sy juk van jou nek afdruk.
Toe het Esau Jakob as vyand behandel vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak.
Maar toe hulle Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak.
My seun luister dan nou na my: maak jou klaar vlug tog na Haran, na my broer Laban,
en bly ʼn rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar,
tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?
Verder sê Rebekka vir Isak: Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Jakob ʼn vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land - waarvoor lewe ek dan?