Afrikaans-1933/1/33

21 lines
2.5 KiB
Plaintext

En Jakob het sy oë opgeslaan, en toe hy meteens Esau sien aankom en vier honderd man saam met hom, het hy die kinders onder Lea en Ragel en onder die twee slavinne verdeel.
En hy het die slavinne met hulle kinders eerste, en Lea met haar kinders daaragter, en Rachel en Josef laaste opgestel;
maar hy self het voor hulle uit gegaan en hom sewemaal na die aarde gebuig totdat hy by sy broer gekom het.
Toe loop Esau hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en soen hom; en hulle het geween.
Daarna het hy sy oë opgeslaan en die vroue en kinders gesien en gesê: Wie het jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat God uit genade aan u dienaar geskenk het.
En die slavinne het nadergekom, hulle en hulle kinders, en hul neergebuig.
En Lea het ook nadergekom met haar kinders en hul neergebuig; daarna het Josef nadergekom en Ragel en hul neergebuig.
Daarop sê hy: Wat is jou bedoeling met daardie hele laer wat ek teëgekom het? En hy antwoord: Om guns te vind in die oë van my heer.
Maar Esau sê: Ek het baie, my broer! Wat joue is, laat dit joue bly!
Toe antwoord Jakob: Ag nee, as ek nou guns in u oë gevind het, neem dan my geskenk uit my hand aan. Want daarom het ek u aangesig te sien gekry soos ʼn mens die aangesig van God sien, en u het behae in my gehad.
Neem tog my geskenk wat u aangebied is, want God het my dit uit genade gegee, en ek het volop. En hy het by hom aangehou, sodat hy dit aangeneem het.
Daarop sê hy: Laat ons opbreek en verder trek, en ek sal langs jou trek.
Maar hy antwoord hom: My heer weet dat die kinders swak is, en dat ek lammerooie en melkkooie by my het; as ʼn mens hulle net een dag ooreis, dan sterf al die kleinvee.
My heer moet maar voor sy dienaar uit trek, en ék sal op my gemak trek na die gang van die vee wat voor my uit gaan, en na die gang van die die kinders tot ek by my heer in Seϊr aankom.
Toe sê Esau: Laat my tog van die manskappe wat by my is, by jou laat staan. En hy antwoord: Waarvoor dan? Laat my guns in die oë van my heer vind!
So het Esau dan dié dag teruggegaan padlangs na Seϊr toe.
Maar Jakob het na Sukkot weggetrek en vir hom ʼn huis gebou en takkrale vir sy vee gemaak. Daarom het hy die plek genoem Sukkot.
En Jakob het behoue aangekom in die stad Sigem wat in die land Kanaän is toe hy van Paddan-Aram gekom het - hy het sy laer voor die stad opgeslaan
en die stuk grond gekoop waar hy sy tent opgeslaan het, van die seuns van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke.
Daar het hy ook ʼn altaar opgerig en dit genoem: Die God van Israel is God.