Afrikaans-1933/18/19

29 lines
2.4 KiB
Plaintext

Maar Job het geantwoord en gesê:
Hoelank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?
Nou tienmaal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam.
En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my.
As julle werklik julle teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys,
weet dan dat Gόd my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het.
As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie.
Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.
My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.
Hy werp my aan alle kante omver, en - daar gaan ek! en Hy het my verwagting uitgeruk soos ʼn boom.
Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as sy vyand.
As een man kom sy skare aan en baan ʼn pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent.
My broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.
My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.
My huismense en my slavinne hou my vir ʼn vreemde; ʼn onbekende het ek geword in hulle oë.
Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.
My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.
Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.
Al my vertroude vriende het ʼn afsku van my; en die wat ek liefhet, het teen my gedraai.
My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap.
Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!
Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie?
Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in ʼn boek opgeteken word-
met ʼn ystergriffel en lood - vir altyd in ʼn rots ingekap!
Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.
En nadat dit alles my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;
Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë - en geen vreemde nie - sal sien. My niere versmag van verlange in my binneste.
As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is!-
vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien; sodat julle kan weet dat daar ʼn oordeel is.