Afrikaans-1933/18/30

31 lines
2.7 KiB
Plaintext

En nόu lag hulle wat jonger is as ek, my uit - mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit.
Wat sou die krag van hulle hande my ook baat? Die frisse lewenskrag het by hulle verlore gegaan.
Hulle is uitgeput deur gebrek en honger, hulle wat die dor land afknaag in die donkerheid, woestheid en verwoesting;
hulle wat die soutkruid afpluk by die bossies, en die besemboswortel is hulle brood.
Uit die samelewing word hulle weggejaag; die mense skreeu oor hulle soos oor ʼn dief.
In die afgryslike klowe moet hulle woon, in gate in die grond en in rotse.
Tussen die bossies skreeu hulle, onder brandnekels kruip hulle bymekaar -
dwase, ja, eerlose mense wat met ʼn sweep uit die land geslaan word.
En nou het ek hulle spotlied geword en die onderwerp van hulle gepraat.
Hulle het ʼn afsku van my, staan op ʼn afstand van my af en ontsien nie om my in die gesig te spuug nie.
Want Hy het my boogsnaar losgemaak en my verneder; so het hulle dan teenoor my die teuel laat skiet.
Aan die regterhand staan die gespuis op; hulle stoot my voete weg en gooi hul onheilspaaie teen my op.
My pad verniel hulle, hulle help om my te laat val sonder dat hulle self ʼn helper het.
Soos deur ʼn wye bres kom hulle; onder die puinhope kom hulle aanrol.
Verskrikkinge is teen my gerig; dit vervolg my hoogheid soos die wind, en soos ʼn wolk gaan my geluk verby.
Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.
Die nag deurboor my gebeente, en dit val van my af; en my knaende pyne rus nooit nie.
Deur goddelike oormag is my kleed ontredder; soos die kraag van my lyfrok span dit om my.
Hy het my in die modder gewerp, en ek het soos stof en as geword.
Ek roep U aan om hulp, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U staar my aan.
U is jeens my verander in ʼn onbarmhartige; deur die sterkte van u hand behandel U my as vyand.
U hef my op die wind, laat my daarop ry; en U laat my waggel in stormgedruis.
Want ek weet: U wil my na die dood toe bring en na die huis van samekoms vir al wat lewe.
Maar sal iemand by die ineenstorting nie nog die hand uitsteek of by sy ondergang om dié rede om hulp roep nie?
Of het ek nie geween oor hom wat harde dae het nie? Was my siel nie bekommerd oor die behoeftige nie?
Want ek het op die goeie gehoop, en onheil het gekom; en ek het gewag op lig, en donkerheid het gekom.
My ingewande kook sonder ophou; dae van ellende het my teëgekom.
Ek gaan daarheen in die rou, sonder son; ek staan op in die vergadering, ek roep om hulp.
Ek het ʼn broer geword vir die jakkalse en ʼn vriend vir die volstruise.
My vel het swart geword en val van my af, en my gebeente gloei van hitte.
So het dan my siter ʼn rouklag geword en my fluit ʼn stem van die wat ween.