Afrikaans-1933/18/40

28 lines
2.1 KiB
Plaintext

En die HERE het Job uit ʼn storm geantwoord en gesê:
Gord tog jou heupe as ʼn man; Ek sal jou ondervra en onderrig jy My.
Wil jy werklik my reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê?
Het jy dan ʼn arm soos God? En kan jy donder met die stem soos Hy?
Versier jou tog met heerlikheid en hoogheid, en beklee jou met majesteit en glorie!
Giet jou toorn in strome uit; en kyk na alles wat hoog is, en verneder dit.
Kyk na alles wat hoog is, onderwerp dit; en werp die goddelose neer daar waar hulle staan.
Begrawe hulle almal saam in die stof; sluit hulle aangesigte in ʼn verborge plek weg.
Dan sal Ek jou ook loof, omdat jou regterhand jou die oorwinning gee.
Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos ʼn bees.
Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik.
Hy hou sy stert reguit soos ʼn seder; die senings van sy dye is inmekaar gevleg.
Sy gebeente is pype van koper, sy bene soos stawe van yster.
Hy is die eersteling van die weë van God; Hy wat hom gemaak het, het hom sy swaard verskaf.
Want die berge lewer vir hom voer, en al die wilde diere van die veld speel daar.
Onder is lotusbome lê hy, in ʼn skuilplek van riet en moeras.
Lotusbome oordek hom as sy skaduwee, die rivierwilgers omring hom.
As die rivier swel - hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis ʼn Jordaan teen sy mond.
Sal ʼn mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met harpoene sy neus deurboor?
Kan jy die krokodil met ʼn hoek uittrek? En met ʼn tou sy tong afdruk?
Kan jy ʼn tou van biesies in sy neus sit? En sy kakebeen met ʼn haak deurboor?
Sal hy jou baie smeek? Of met jou spreek in sagte woorde?
Sal hy ʼn verbond met jou maak, dat jy hom vir altyd as slaaf aanneem?
Sal jy met hom soos met ʼn voëltjie speel? En hom vasbind vir jou meisiekinders?
Sal die viskopers met hom handel drywe, hom verdeel onder die koopmans?
Kan jy sy vel vol skerp ysters steek, en met ʼn vissers-harpoen sy kop?
Sit jou hand op hom; dink aan die geveg; jy sal dit nie weer doen nie.
Kyk, elke hoop kom bedroë uit: sal ʼn mens nie reeds by die sien van hom neerslaan nie?