Afrikaans-1933/19/36

14 lines
1.2 KiB
Plaintext

Vir die musiekleier. ʼn Psalm van David, die kneg van die Here.
In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie.
Want dit vlei hom in sy oë dat hy sy haatlike, sondige doel wel sal bereik.
Die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen.
Hy bedink onreg op sy bed; hy gaan staan op ʼn weg wat nie goed is nie; wat sleg is, verfoei hy nie.
o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke.
U geregtigheid is soos die berge van God; u oordele is ʼn groot watervloed. HERE, u behou mense en diere!
Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! Daarom skuil die mensekinders onder die skaduwees van u vleuels.
Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge.
Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.
Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat U ken en u geregtigheid vir die opregtes van hart.
Laat die voet van die trotsaard nie oor my kom nie, en laat die hand van die goddelose mense my nie verdryf nie.
Daar het die werkers van die ongeregtigheid geval; hulle is neergestoot en kan nie weer opstaan nie.