Die mens uit ʼn vrou gebore is kort van dae en sat van onrus. Hy spruit uit soos ʼn blom en verwelk; ook vlug hy soos ʼn skaduwee en hou nie stand nie. En oor so een maak U die oë oop, en U bring my voor U gerig. Ag, kon maar ʼn reine voortkom uit ʼn onreine? Nie een nie. As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie, Kyk dan weg van hom af, dat hy kan rus - totdat hy soos ʼn dagloner hom tevrede voel met sy dag. Want vir ʼn boom is daar verwagting: as dit afgekap word, dan loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie. As sy wortel oud word in die aarde en sy stam stef in die stof - van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak ʼn tak soos ʼn jong plantjie. Maar ʼn man sterwe en is magteloos; ja ʼn mens blaas die asem uit en - waar is hy? Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die river droog uit en lê droog - so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie. Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn stel en dan aan my wou dink! As ʼn mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U sou roep, en en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang. Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie? My oortreding is verseël in ʼn bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg. Maar soos ʼn berg stukkend val deurdat dit inmekaarstort, en ʼn rots versit wort uit sy plek; die water klippe glad skuur; die stortvloede daarvan die grond van die aarde wegspoel; so is die verwagting van ʼn mens - U maak dit tot niet. U oorweldig hom vir ewig, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en skuur hom weg. Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gevaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie. Net sy vlees aan hom voel pyn, en sy siel in hom treur.