diff --git a/18/38 b/18/38 index e69de29..bb9eb49 100644 --- a/18/38 +++ b/18/38 @@ -0,0 +1,38 @@ +Daarna het die HERE Job uit 'n storm geantwoord en gesê: +Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? +Gord dan as 'n man jou heupe - dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My. +Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het; gee te kenne as jy insig het. +Wie het sy afmetings bepaal? - jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? +Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? +Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het? +En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? +Toe ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. +Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; +en gese het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word 'n grens gestel vir jou trotse golwe. +Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys, +om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word? +Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder 'n seël; en die dinge kry gestalte soos 'n kleed. +En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek. +Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed? +Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien? +Omvat jou begrip die breetes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet. +Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis - waar is tog sy plek? +sodat jy dit kan bring elkeen na sy gebied en kan verstaan die paaie na hulle huis. +Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot! +Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien? +wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog. +Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word, die oostewind hom uitsprei oor die aarde? +Wie het 'n kanaal gesplyd vir die stortvloed en 'n pad vir die onweerstraal? +om te laat reën op 'n land waar geen mens is nie, op 'n woestyn waar niemand woon nie; +om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit +Het die reën 'n vader? Of wie verwek die doudruppels? +Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel - wie baar dit? +Die waters word hard soos 'n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar. +Kan jy die bande van die Sewester knoop? Of die toe van die Drie Konings losmaak? +Kan jy die Diereriem uirbring op sy tyd? En die Beer met sy kleintjies lei? +Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel? +Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat 'n oorvloed van water jou oordek? +Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons! +Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte? +Wie kan wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel - wie giet hulle leeg? +wanneer die stof saamvloei tot 'n stuk gietwerk en die kluite aanmekaar klewe.