Afrikaans-1933/1/39

16 lines
2.1 KiB
Plaintext
Raw Normal View History

2022-10-18 19:22:11 +00:00
En Josef is afgebring na Egipte: en Pόtifar, ʼn hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, ʼn Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het.
En die HERE was met Josef, sodat hy ʼn voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly.
En toe sy heer sien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak,
het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee.
En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën terwille van Josef; ja die seën van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.
En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy eet. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien.
Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my.
Maar hy het geweier en vir die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee.
Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?
En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie,
kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie.
Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en buitentoe geloop.
Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het,
roep sy na haar huisgenote en sê vir hulle: Kyk, hy het vir ons ʼn Hebreeuse man hier gebring om met ons te gekskeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu;
en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en buitentoe geloop.