Voeg by Genesis 44:1-34

This commit is contained in:
Hannah van der Merwe 2023-02-20 21:41:23 +02:00 committed by Llewellyn
parent b9d5ff75a1
commit dae1024d7d
1 changed files with 34 additions and 0 deletions

34
1/44 Normal file
View File

@ -0,0 +1,34 @@
Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak;
en my beker, die silwerbeker, moet jy sit bo in die jongste se sak saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het.
Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle en hul esels.
Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra dan vir hulle: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde?
Is dit nie die ding waar my heer uit drink en waarmee hy self altyd waarsê nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.
En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.
Toe sê hulle vir hom: Waarom spreek meneer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen.
Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gekry het, het ons uit die land Kanaän aan u teruggebring - hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel?
Die een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook meneer se slawe wees.
Toe antwoord hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Dié een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar júlle sal vry wees.
Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak oopgemaak.
En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en die beker is in Benjamin se sak gevind.
Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug.
En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom - hy was nog daar - en hulle het voor hom neergeval op die grond.
Daarop vra Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat ʼn man soos ek waarsêery verstaan nie?
En Juda antwoord: Wat kan ons vir meneer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is meneer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.
Maar hy antwoord: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader.
Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, meneer, mag u dienaar tog ʼn woord spreek voor die ore van meneer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.
Meneer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle ʼn vader of broer?
En ons het meneer geantwoord: Ons het ʼn ou vader; en daar is ʼn jong seun, ʼn kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief.
Toe het u vir u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan laat rus.
En ons het meneer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat.
Daarop het u vir u dienaars gesê; As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie.
En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van meneer te kenne gegee het,
het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons ʼn bietjie voedsel.
Maar ons het geantwoord: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie.
En u dienaar, my vader, het vir ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het -
die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.
As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom ʼn ongeluk oorkom, dan sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal.
As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom, en die seun nie by ons is nie - terwyl sy siel innig aan hom verkleef is -
dan sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal.
Want u dienaar het die seun deur borgskap verkry van my vader deurdat hy gesê het: As ek hom nie vir u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan.
Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun meneer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek.
Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie saam aansien wat my vader sal tref nie!