Genesis 44-45 #149

Merged
Llewellyn merged 5 commits from Hannah/Afrikaans-1933:Genesis into master 2023-07-03 09:49:16 +00:00
2 changed files with 62 additions and 0 deletions

34
1/44 Normal file
View File

@ -0,0 +1,34 @@
Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak;
en my beker, die silwerbeker, moet jy sit bo in die jongste se sak saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het.
Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle en hul esels.
Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra dan vir hulle: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde?
Is dit nie die ding waar my heer uit drink en waarmee hy self altyd waarsê nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.
En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.
Toe sê hulle vir hom: Waarom spreek meneer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen.
Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gekry het, het ons uit die land Kanaän aan u teruggebring - hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel?
Die een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook meneer se slawe wees.
Toe antwoord hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Dié een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar júlle sal vry wees.
Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak oopgemaak.
En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en die beker is in Benjamin se sak gevind.
Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug.
En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom - hy was nog daar - en hulle het voor hom neergeval op die grond.
Daarop vra Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat ʼn man soos ek waarsêery verstaan nie?
En Juda antwoord: Wat kan ons vir meneer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is meneer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.
Maar hy antwoord: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader.
Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, meneer, mag u dienaar tog ʼn woord spreek voor die ore van meneer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.
Meneer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle ʼn vader of broer?
En ons het meneer geantwoord: Ons het ʼn ou vader; en daar is ʼn jong seun, ʼn kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief.
Toe het u vir u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan laat rus.
En ons het meneer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat.
Daarop het u vir u dienaars gesê; As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie.
En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van meneer te kenne gegee het,
het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons ʼn bietjie voedsel.
Maar ons het geantwoord: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie.
En u dienaar, my vader, het vir ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het -
die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.
As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom ʼn ongeluk oorkom, dan sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal.
As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom, en die seun nie by ons is nie - terwyl sy siel innig aan hom verkleef is -
dan sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal.
Want u dienaar het die seun deur borgskap verkry van my vader deurdat hy gesê het: As ek hom nie vir u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan.
Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun meneer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek.
Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie saam aansien wat my vader sal tref nie!

28
1/45 Normal file
View File

@ -0,0 +1,28 @@
Toe kon Josef hom nie langer bedwing nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie.
Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het.
En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom.
Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle naderkom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.
Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.
Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie.
Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ʼn oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ʼn groot verlossing.
Júlle het my dan nou nie heirheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ʼn raadsman van Farao gemaak en ʼn gebieder oor sy hele huis en ʼn regeerder in die hele Egipteland.
Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: God het my ʼn gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie!
En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit.
En ek sal u daar onderhou, want saar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort.
En kyk, julle oë sien dit, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek.
Vertel dan aan my vader van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het, en bring my vader gou hierheen af.
Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy hals geween.
En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gespreek.
Toe die gerugte in die huis van Farao gehoor word dat Josef se broers gekom het, was dit goed in die oë van Farao en van sy dienaars.
En Farao het met Josef gesreek: Sê vir jou broer: Doen dit, laai julle diere en trek weg na die land Kanaän.
En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land.
Jý kry bevel om dit te doen: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom.
En julle hoef geen spyt te hê oor julle huisraad nie, want die beste van die hele Egipteland is julle s'n.
Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis.
Hy het aan hulle almal, man vir man, nuwe kleere gegee; maar aan benjamin het hy drie honderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee.
En net so het hy ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis.
Daarop het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek; en hy het vir hulle gesê: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.
En hulle het opgetrek uit Egipte en in die land Kanaän aangekom by hulle vader Jakob.
Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog - en dat hy regeerder is in die hele Egipteland - het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.
Maar toe hulle hom al die woorde van Josef te kenne gee wat hy met hulle gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van Jakob, hulle vader, lewendig geword.
En Israel het gesê: Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.