ʼn GEDIG van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek. Ek het vir die HERE gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie. Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is. Die smarte van hulle wat ʼn ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees; ek sal hulle drankoffers van bloed nie uitgiet en hulle name op my lippe nie neem nie. Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja my erfenis is vir my mooi. Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my. Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon; want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgennot verderwing sien nie. U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.