Afrikaans-1933/1/20

19 lines
2.6 KiB
Plaintext

En Abraham het daarvandaan wegetrek na die Suidland en gaan woon tussen Kades en Sur, en in Gerar as vreemdeling vertoef.
En Abraham het van Sara, sy vrou, gesê: Sy is my suster. Toe laat Abiméleg, die koning van Gerar, Sara haal.
Maar God het in die nag by Abiméleg gekom in ʼn droom en vir hom gesê: Kyk, jy sal sterwe terwille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is ʼn getroude vrou.
Maar Abiméleg het nog nie naby haar gekom nie; daarom het hy gevra: HERE, sal U ook ʼn regverdige nasie ombring?
Het hy nie self vir my gesê: Sy is my suster nie? En sy het self ook gesê: Hy is my broer. In die onskuld van my hart en die in die reinheid van my hande het ek die gedoen.
Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen my te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie.
Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is ʼn profeet; en hy sal vir jou bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik sal sterwe, jy en al wat joue is.
Abiméleg was toe die môre vroeg op en het al sy dienaars geroep en die hele saak voor hulle ore vertel. Toe was die manne baie bang.
En Abiméleg het Abraham laat roep en vir hom gevra: Wat het jy ons aangedoen? En wat het ek teen jou gesondig, dat jy oor my en my koninkryk ʼn groot sonde gebring het? Dinge wat nie mag gebeur nie, het jy my aangedoen.
Verder sê Abiméleg vir Abraham: Wat het jy bedoel, dat jy dit gedoen het?
En Abraham antwoord: Ek het gedink, daar is regtig geen vrees vir God in hierdie plek nie, sodat hulle my oor my vrou sal doodmaak.
En sy is ook werklik my suster; sy is my vader se dogter, maar nie my moeder se dogter nie; en sy het my vrou geword.
En toe God my uit die huis van my vader laat omswerf het, het ek vir haar gesê: Dit is die guns wat jy van jou kant my moet bewys - op elke plek waar ons kom, moet jy van my sê: Hy is my broer.
Toe neem Abiméleg kleinvee en beeste, ook slave en slavinne, en gee dit aan Abraham. Ook sy vrou Sara het hy aan hom teruggegee.
En Abiméleg sê: Daar lê my land voor jou oop; woon waar dit goed is in jou oë.
En vir Sara sê hy: Hier gee ek aan jou broer duisend sikkels silwer. Hy is vir jou ʼn bedekking van die oë met betrekking tot elkeen wat by jou is, sodat jy in elke opsig geregverdig is.
Toe het Abraham tot God gebid, en God het Abiméleg gesond gemaak; ook sy vrou en sy slavinne, sodat hulle kon baar.
Want die HERE het elke moederskoot van die huis van Abiméleg geheel-en-al toegesluit terwille van Sara, die vrou van Abraham.