Afrikaans-1933/1/22

24 lines
2.9 KiB
Plaintext

Ná hierdie dinge het God Abraham beproef en vir hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!
Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan nou na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.
Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ʼn brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het.
Op die derde dag toe slaan Abraham sy oë op en sien die plek van ver af.
En Abraham sê vir sy dienaars: Bly hier met die esel; ek en die seun wil daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom.
En Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak gesit, en die vuur en die mes in sy hand geneem. So het hulle dan saam geloop.
Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ʼn brandoffer?
En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir ʼn brandoffer voorsien, sy seun. So het hulle twee dan saam geloop.
Toe hulle kom op plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit.
Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag.
Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!
En hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.
En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ʼn ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en hom as ʼn brandoffer in die plek van sy seun geoffer.
En Abraham het dié plek genoëm: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: op die berg sal van die HERE sal dit voorsien word.
Toe roep die Engel van die HERE vir die twede keer na Abraham van die hemel af
en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,
dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poorte van sy vyand in besit neem.
En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.
Na hierdie dinge het hulle vir Abraham berig gebring en gesê: Kyk, Milka het ook vir jou broer Nahor seuns gebaar:
Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en Kémuel, die vader van Aram,
ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en Bétuel.
(En Bétuel was die vader van Rebekka.) Hierdie agt het Milka vir Nahor, die broer van Abraham, gebaar.
En sy bywyf met die naam van Reiima, sy het ook Tebag en Gaham en Tahas en Máäga gebaar.