Afrikaans-1933/1/43

35 lines
4.8 KiB
Plaintext

En die hongersnood was swaar in die land.
En nadat die koring wat hulle uit Egipte gebring het, opgeëet was, sê hulle vader vir hulle: Gaan koop vir ons weer ʼn bietjie voedsel.
Toe antwoord Juda hom: Die man het ons uitdruklik gewaarsku en gesê: Julle sal my aangesien nie sien as julle broer nie by julle is nie.
As u ons broer saam met ons stuur, sal ons aftrek en vir u voedsel koop;
maar as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het ons verseker: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.
Toe vra Israel: Waarom het julle so verkeerd teen my gehandel om die man te vertel dat julle nog ʼn broer het?
En hulle antwoord: Die man het uitdruklik na ons famielie gevra met die woorde: Lewe julle vader nog? Het julle nog ʼn broer? Toe het ons hom dit te kenne gegee volgens hierdie woorde. Kon ons dan ooit weet dat hy sou sê: Bring julle broer af?
Daarop sê Juda vir sy vader Israel: Stuur die seun saam met my; dan sal ons klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe nie - ons en ook u en ons kinders nie.
Ék sal vir hom borg wees; van my hand kan u hom eis. As ek hom nie na u bring en voor u stel nie, sal ek lewenslank teenoor u skuldig staan.
Ja, as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al tweemaal terug.
Toe antwoord Israel, hulle vader, vir hulle: As dit so is, doen dan dit: Neem van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir die man ʼn geskenk af - bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels;
en neem dubbeld soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit ʼn vergissing.
En neem julle broer - maak julle klaar en gaan terug na die man.
En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek - as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.
Daarop neem die manne dié geskenk, en hulle neem dubbeld soveel geld saam met hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte afgetrek en voor Josef gaan staan.
Toe Josef Benjamin by hulle sien, sê hy vir die opsigter oor sy huis: Bring die manne in die huis en slag ʼn slagding en maak klaar, want die manne moet vanmiddag by mý eet.
En die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in die huis van Josef gebring.
En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is, en gesê: Terville van die geld wat die vorige keer in sakke teruggekom het, word ons ingebring om ons te oorval en ons as slawe te neem, saam met ons esels.
Daarop het hulle nadergekom na die man wat oor die huis van Josef was en met hom gespreek by die deur van die huis
en gesê: Ag, meneer, ons het die vorige keer net afgetrek om voedsel te koop,
maar toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld bo in sy sak - ons geld volgens sy gewig - en ons het dit saam met ons teruggebring.
Ons het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie.
Toe antwoord hy: Wees nie besorg nie! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het julle ʼn skat in julle sakke gegee. Julle geld het by my aangekom. Daarop het hy Símeon na hulle uitgebring.
En die man het die manne in die huis van Josef gebring en water gegee, en hulle het hul voete gewas; hy het ook vir hulle esels voer gegee.
En hulle het die geskenk reggemaak teen dat Josef die middag sou kom, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.
Toe Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring wat by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe.
En hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: Gaan dit goed met julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog?
En hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog. En hulle het hul eerbiedig neergebuig.
Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy moeder, en vra: Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het? Daarop sê hy: Mag God jou genadig wees, my seun!
En Josef het gou gemaak, want sy binniste was ontroerd oor sy broer: hy het geleendheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween.
Daarna het hy sy gesig gewas en uitgekom, en hom bedwing en gesê: Bring die ete op!
Toe bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir die Egiptenaars wat by hom eet, besonders. Want die Egiptenaars mag nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars ʼn gruwel is.
En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas aan.
Hierop het hy vir hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan; maar die porsie van Benjamin was vyfmaal groter as die porsies van hulle almal. En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.