Afrikaans-1933/1/47

32 lines
5.1 KiB
Plaintext

Daarop het Josef gekom en aan Farao vertel en gesê: My vader en my broers en hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het gekom uit die land Kanaän, en daar is hulle nou in die land Gosen.
En hy het uit die getal van sy broers vyf man saamgeneem en hulle aan Farao voorgestel.
Toe vra Farao vir sy broers: Wat is julle nering? En hulle antwoord Farao: U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons vaders.
Verder sê hulle vir Farao: Ons het gekom om as vreemdelinge in die land te vertoef, want daar is geen weiding vir die kleinvee van u dienaars nie, omdat die hongersnood in die land Kanaän swaar is. Laat u dienaars dan nou tog in die land Gosen woon.
Daarop het Farao met Josef gespreek en gesê: Jou vader en jou broers het na jou gekom.
Egipteland lê voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land woon; hulle kan in die land Gosen woon. En as jy weet dat daar onder hulle bekwame manne is, stel julle dan aan as vee-opsigters oor my eiendom.
Toe bring Josef sy vader Jakob in en stel hom aan Farao voor. En Jakob het Farao gegroet met ʼn seënwens.
Daarop sê Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare?
En Jakob antwoord Farao: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie.
Toe het Jakob Farao gegroet met ʼn seënwens en van Farao af weggegaan.
En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle ʼn besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek Ramses, soos Farao beveel het.
En Josef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met brood onderhou ooreenkomstig die getal van die kinders.
En daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar, sodat Egipteland en die land Kanaän uitgeput was weens die hongersnood.
En Josef het al die geld versamel wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die paleis van Farao gebring.
En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän op was, het al die Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor u oë sterwe, want die geld is gedaan?
En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee as die geld gedaan is.
Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle dié jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee.
Toe dié jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom gesê: Ons kan dit vir meneer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die besitting aan vee is meneer s'n. Daar het niks vir meneer oorgebly nie as net ons lyf en ons grond.
Waarom moet ons voor u oë te gronde gaan, ons sowel as ons landery? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons en ons grond aan Farao diensbaar wees; en gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes word nie.
So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword.
En wat die volk betref - hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan.
Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het ʼn vaste inkomste van Farao ontvang en van hulle vaste inkomste geëet wat Farao hulle toegestaan het. Daarom het hulle hul grond nie verkoop nie.
Toe sê Josef vir die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao gekoop: daar is saadkoring vir julle, dat julle die grond kan besaai.
En by die insameling moet julle ʼn vyfde deel aan Farao afgee, en die ander vier dele sal vir julle dien as saad vir die land en as voedsel vir julleself en die wat in julle huise is en as voeding vir julle kinders.
En hulle antwoord: U het ons lewe gered. Laat ons guns mag vind in die oë van meneer, dan sal ons die dienaars van Farao wees.
En Josef het dit ʼn wet gemaak tot vandag toe vir die saaigrond van Egipte - die vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen het nie die eiendom van Farao geword nie.
So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.
En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewen-en-veertig jaar was.
En toe die dae van Isreal naderkom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou - begrawe my tog nie in Egipte nie.
As ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.
Toe sê hy: Sweer my tog. En hy het vir hom gesweer. Toe het Israel in aanbidding gebuig oor die koppenent van die bed.