Afrikaans-1933/18/34

37 lines
3.2 KiB
Plaintext

Verder het Elíhu aangehef en gesê:
Hoor my woorde, o wyse manne! En luister na my, u wat kennis het!
Want die oor toets woorde soos die verhemelte die spyse proe.
Laat ons vir onsself uitkies wat reg is, en onder mekaar uitvind wat goed is.
Want Job het gesê: Ek is regverdig, en God het my reg ontneem.
Ondanks my reg moet ek lieg; ongeneeslik is my pylwond, en dit sonder oortreding!
Waar is ʼn man soos Job wat godslastering drink soos water?
Wat in die geselskap loop van die werkers van ongeregtigheid en wandel saam met goddelose mense?
Want hy het gesê: Dit baat ʼn man niks dat hy ʼn welgevalle aan God het nie.
Daarom, manne van verstand, luister na my: Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg!
Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk, en volgens ʼn man se wandel laat Hy hom ondervind.
Ja waarlik, God handel nie goddeloos nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.
Wie het aan Hom die aarde toevertrou, en wie het die hele wêreld gegrond?
As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek,
dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas, en die mens sou tot stof terugkeer.
As daar dan verstand by u is, hoor dit; luister na die stem van my woorde.
Kan ook een wat die reg haat, heers? Of durf u die Regverdige, die Geweldige, veroordeel?
Durf iemand vir ʼn koning sê: Jou deugniet! vir die edeles: Jou goddelose!
Hoeveel minder vir Hom wat nie partydig is vir vorste en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.
In ʼn oomblik sterf hulle, en in die middel van die nag word ʼn volk in beroering gebring en hulle gaan onder, en die magtige word weggedryf - nie deur ʼn hand nie. -
Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe.
Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waar die werkers van ongeregtigheid hulle in kan wegsteek nie.
Want Hy hoef nie lank op ʼn mens ag te gee, dat hy voor God in die gereg sou gaan nie.
Hy verpletter die geweldiges sonder ondersoek en sit ander in hulle plek.
So ken Hy dan hulle werke en werp hulle omver in die nag, sodat hulle verbrysel word.
Hy straf hulle as goddelose op die plek waar almal dit sien.
Want dáárom het hulle van Hom afgewyk en op geeneen van sy weë ag gegee nie -
om die geroep van die arme na Hom te laat kom, en dat Hy die geroep van die ellendiges sou hoor.
En gee Hý rus, wie durf Hom dan veroordeel? En verberg Hy die aangesig, wie kan Hom dan aanskou? - of dit al ʼn nasie betref of ʼn mens, almal saam;
sodat die goddelose mense nie sal regeer, sodat hulle geen strikke vir die volk sal wees nie.
Want sê iemand wel tot Gόd: Ek boet sonder dat ek sleg handel,
wat ek nie sien nie, leer U my dit; ás ek onreg gedoen het, ek sal dit nie meer doen nie? -
Moet Hy volgens u welgevalle vergelding doen? U is mos ontevrede, sodat ú moet sê wat beter is, en nie ek nie! Wat u dan weet - spreek dit uit!
Manne van verstand sal vir my sê, en ʼn wyse man wat my aanhoor:
Job spreek sonder kennis, en sy woorde is sonder verstand.
Ag, mag Job getoets word tot die end toe weens die antwoorde in die trant van kwaaddoeners.
Want hy voeg oortreding by sy sonde; onder ons spreek hy smadelik en vermenigvuldig sy woorde teen God.