Afrikaans-1933/19/31

26 lines
2.5 KiB
Plaintext

Vir die musiekleier. ʼn Psalm van Dawid.
By U, o HERE, skuil ek; laat my nooit nie beskaamd staan nie. Bevry my deur u geregtigheid.
Neig u oor tot my, red my tog gou; wees vir my ʼn rots om in te vlug, ʼn baie vaste huis om my te verlos.
Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en my bestuur.
U sal my laat uitgaan uit die net wat hulle vir my gespan het, want U is my toevlug.
In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou.
Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ek vertrou op die HERE.
Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het
en my nie oorgelewer het in die hand van die vyhand nie; U het my voete in die ruimte laat staan.
Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam.
Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit.
Vanweë al my teëstanders het ek ʼn voorwerp van smaad geword, ja grootliks vir my bure, en ʼn voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af.
Ek is vergeet uit die die hart, soos ʼn dooie; ek het geword soos ʼn ding wat lê en vergaan.
Want ek het die skindertaal van baie gehoor - skrik rondom! - terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem.
Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God.
My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyhande en van my vervolgers.
Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid.
HERE, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk!
Laat die valse lippe stom word wat onbeskaamd spreek teen die regverdige, in trotsheid en veragting.
o Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders!
U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense: U steek hulle weg in ʼn hut vir die twis van die tonge.
Geloof sy die HERE, want Hy het sy goedertierenheid aan my wonderlik gemaak, in ʼn vaste stad.
Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp.
Julle moet die HERE liefhê, al sy gunsgenote! Die HERE bewaar die getroues en vergeld hom oorvloedig wat trots handel.
Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag!