Afrikaans-1933/2/22

31 lines
4.0 KiB
Plaintext

As iemand ʼn bees of ʼn stuk kleinvee steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste vir ʼn bees vergoed en vier stuks kleinvee vir ʼn stuk kleinvee.
As ʼn dief betrap word terwyl hy inbreek; en word hy geslaan, sodat hy sterwe, dan sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie;
as die son oor hom opgegaan het, dan ontstaan daardeur bloedskuld.-Hy moet ten volle vergoeding gee; as hy niks het nie, dan moet hy vir sy diefstal verkoop word.
As die gesteelde goed-of dit ʼn bees, ʼn esel of ʼn stuk kleinvee is-nog lewendig in sy besit gevind word, moet hy dubbeld vergoeding gee.
As iemand ʼn stuk veld of ʼn wingerd laat afwei en sy vee vry laat loop, sodat dit in die veld van ʼn ander wei, moet hy van die beste van sy veld en die beste van sy wingerd as vergoeding gee.
As ʼn vuur uitbreek en die dorings vat, sodat ʼn mied of die ongesnyde graan of die veld verteer word, moet hy wat die vuur aan die brand gesteek het, ten volle vergoeding gee.
As iemand aan sy naaste geld of goed in bewaring gee, en dit word uit die man se huis gesteel, dan moet die dief, as hy uitgevind word, dubbeld vergoeding gee.
As die dief nie uitgevind word nie, dan moet die baas van die huis na die owerhede gaan om te beslis of hy sy hand nie uitgesteek het na sy naaste se goed nie.
By alle sake van ontvreemding, of dit gaan oor ʼn bees, oor ʼn esel, oor kleinvee, oor klere, of oor enigiets wat verloor is, waarvan iemand sê: Dit is dit!-moet die saak van altwee voor die owerhede kom; hom wat die owerhede skuldig verklaar, moet aan sy naaste dubbeld vergoeding gee.
As iemand vir sy naaste ʼn esel of bees of stuk kleinvee of enige dier gee om op te pas, en dit gaan dood of kry ʼn ongeluk of word weggevoer sonder dat iemand dit sien,
dan moet die eed by die HERE tussen hulle twee beslis, of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie; en die eienaar moet daarmee tevrede wees; en die ander hoef geen vergoeding te gee nie.
Maar as dit van hom weggesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee.
As dit verskeur is, dan moet hy dit as bewys bring; wat verskeur is, hoef hy nie te vergoed nie.
En as iemand van sy naaste iets te leen vra, en dit kry ʼn ongelik of gaan dood terwyl die eienaar daar nie by is nie, dan moet hy ten volle vergoeding gee.
As die eienaar daarby gewees het, hoef hy geen vergoeding te gee nie. As dit gehuur was, dan kom die huurgeld daarvoor.
As iemand ʼn jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en met haar gemeenskap het, dan moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop.
As haar vader beslis weier om haar aan hom te gee, dan moet hy die geld gee volgens die huweliksprys vir jongmeisies.
Die towerheks mag jy nie laat lewe nie.
Elkeen wat met ʼn dier gemeenskap het, moet sekerlik doodgemaak word.
Hy wat aan die gode offer, behalwe aan die HERE alleen, moet met die banvloek getref word.
Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie.
As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik dan sal Ek as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor,
en my toorn sal ontvlam, en Ek sal julle met die swaard doodslaan, sodat julle vroue weduwees en julle kinders wese word.
As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ʼn skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie.
As jy ooit jou naaste se gewaad as pand neem, moet jy dit hom teruggee voor die son ondergaan;
want dit is sy enigste bedekking, dit is die bekleding vir sy vel. Waarin moet hy anders slaap? En as hy na My roep, dan sal Ek hoor, want Ek is genadig.
Jy mag God nie vloek nie, en ʼn owerste onder jou volk mag jy nie verwens nie.
Die offer uit jou volle opbrings en jou parskuip mag jy nie agterhou nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My gee.
Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee: sewe dae moet dit by sy moeder wees; op die agste dag moet jy dit aan My gee.
En julle moet vir My heilige mense wees. Daarom mag julle vleis wat in die veld verskeur is, nie eet nie. Julle moet dit vir die honde gooi.