Afrikaans-1933/2/31

18 lines
2.2 KiB
Plaintext

Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
Kyk, Ek het Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep;
en Ek het hom vervul met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk,
om kunstige planne uit te dink om dit uit te voer in goud en silwer en koper,
en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om werksaam te wees in allerhande werk.
En kyk, Ek het hom Ohόliab bygegee, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan. En in die hart van elkeen wat kunsvaardig is, het Ek wysheid gegee, dat hulle alles wat Ek jou beveel het, kan maak:
die tent van samekoms en die ark van die Getuienis en die versoendeksel wat daarop moet wees, en alles wat behoort by die tent,
en die tafel met sy gereedskap en die suiwer kandelaar met al sy gereedskap en die reukaltaar;
ook die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk
en die kunstige klere en die heilige klere van die priester Aäron en die klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien;
ook die salf-olie en die reukwerk van speserye vir die heiligdom-net soos EK jou beveel het, moet hulle dit maak.
Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
Spreek jý met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ʼn teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig.
Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik doodgemaak word; want elkeen wat daarop werk doen, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit.
Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag moet dit wees ʼn dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik doodgemaak word.
En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ʼn ewige verbond.
Tussen my en die kinders van Israel is dit vir ewig ʼn teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.
En Hy het aan Moses, toe Hy met hom klaar gepreek het op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God.