Afrikaans-1933/2/7

25 lines
3.4 KiB
Plaintext

En die HERE het Moses geantwoord: Kyk, Ek stel jou as ʼn god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees.
Jý moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek.
Maar Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig.
Want Farao sal na julle nie luister nie; en Ek sal my hand op Egipte lê en my leërskare, my volk, die kinders van Israel, deur groot strafgerigte uit Egipteland uitlei.
Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die HERE is as Ek my hand oor Egipte uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei.
Moses en Aäron het toe gedoen soos die HERE hulle beveel het; so het hulle gedoen.
En Moses was tagtig jaar en Aäron drie en tagtig jaar oud toe hulle met Farao gespreek het.
En die HERE het Moses en Aäron aangespreek met die woorde:
As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ʼn wonderteken-dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en werp dit voor Farao neer; dan sal dit ʼn slang word.
Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die HERE hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergewerp en dit het ʼn slang geword.
Daarop laat Farao όόk die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste:
elkeen werp sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle stawe verslind.
Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos die HERE gespreek het.
Toe sê die HERE vir Moses: Farao se hart is verhard; hy weier om die volk te laat trek.
Gaan môre vroeg na Farao toe-kyk, hy sal uitgaan na die water; staan dan aan die kant van die Nyl om hom te ontmoet; en neem die staf wat in ʼn slang verander het, in jou hand
en sê vir hom: Die HERE, die God van die Hebreërs, het my na u gestuur met die boodskap: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien in die woestyn. Maar kyk, u het tot nou toe nie geluister nie.
So spreek die HERE: Hieraan sal jy weet dat Ek die HERE is. Kyk, ek sal met die staf wat in my hand is, op die water slaan wat in die Nyl is, en dit sal in bloed verander word.
En die visse in die Nyl sal doodgaan, sodat die Nyl sal stink. En die Egiptenaars sal vergeefs trag om die water uit die Nyl te drink.
Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê vir Aäron: Neem jou staf en steek jou hand uit oor die waters van die Egiptenaars, oor hulle strome, hulle kanale, hulle watergate en oor al hulle versamelplekke van water, sodat dit bloed word: daar sal bloed in die hele Egipteland wees, ook in hout- en in klipbakke.
Moses en Aäron het toe so gedoen soos die HERE beveel het-hy het die staf opgehef en die water wat in die Nyl was, geslaan voor die oë van Farao en van sy dienaars; en al die water in die Nyl is in bloed verander.
En die visse wat in die Nyl was, het doodgegaan; en die Nyl het gestink, sodat die Egiptenaars die water uit die Nyl nie kon drink nie. En daar was bloed in die hele Egipteland.
Maar die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste, sodat Farao se hart verhard is; en hy het na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het.
En Farao het omgedraai en huistoe gegaan en dit ook nie ter harte geneem nie.
Maar al die Egiptenaars het rondom die Nyl na water gegrawe om te drink, want hulle kon van die Nyl se water nie drink nie.
So het dan sewe dae verbygegaan nadat die HERE die Nyl geslaan het.