Afrikaans-1933/3/24

25 lines
3.0 KiB
Plaintext

En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyf-olie vir die kandelaar moet bring, om gedurigdeur ʼn brandende lamp te hê.
Aäron moet dit buitekant die voorhangsel van die Getuienis, in die tent van samekoms, regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van die HERE, gedurigdeur. Dit is ʼn ewige insetting vir julle geslagte.
Hy moet op die rein kandelaar die lampe regmaak om te brand voor die aangesig van die HERE, gedurigdeur.
Jy moet ook fynmeel neem en twaalf koeke daarvan bak, twee tiendes van ʼn efa moet elke koek wees;
en jy moet hulle in twee tawels neersit, ses in ʼn stawel, op die rein tafel voor die aangesig van die HERE.
En by elke stawel moet jy suiwer wierook byvoeg wat vir die brood as gedenkoffer moet dien, as vuuroffer aan die HERE.
Op elke sabbatdag moet hy dit gedurigdeur voor die aangesig van die HERE regsit, van die kant van die kinders van Isreal as ʼn ewige insetting.
En dit moet aan Aäron en sy seuns toekom, hulle moet dit in ʼn heilige plek eet; want as iets hoogheiligs behoort dit aan hom uit die vuuroffers van die HERE-ʼn ewige insetting.
En die seun van ʼn Israelietiese vrou-maar hy was die seun van ʼn Egiptiese man-het uitgegaan tussen die kinders van Israel; En die seun van die Israelietiese vrou en ʼn Israelietiese man het met mekaar gevag in die laer.
Toe het die seun van die Israelietiese vrou die NAAM gelaster en gevloek. Daarom het hulle hom na Moses gebring. En die naam van die Israelietiese vrou was Sélomit, die dogter van Dibri, van die stam van Dan.
En hulle het hom in die gevangenis gesit dat hulle ʼn beslissing kon verkry volgens die uitspraak van die HERE.
En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
Bring die vloeker buitekant die laer uit, en almal wat gehoor het, moet hulle hande op sy hoof lê; dan moet die hele vergadering hom stenig.
En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sy God vloek, dan sal hy sonde dra.
En wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik doodgemaak word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig. Die vreemdelinge net soos die kind van die land-as hy die NAAM laster, moet hy doodgemaak word.
En as iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik doodgemaak word.
Maar as hy ʼn stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; lewe vir lewe.
En as iemand aan sy naaste ʼn liggaamsgebrek toebring-soos hy gedoen het, net so meot ook aan hom gedoen word:
breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand-dieselfde liggaamsgebrek wat hy aan ʼn mens toebring, moet ook aan hom toegebring word:
Hy dan wat ʼn stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; maar hy wat ʼn mens doodslaan, moet doodgemaak word.
Net een wet moet daar vir julle wees-die vreemdeling moet soos die kind van die land wees;
want Ek is die HERE julle God.
Moese het toe met die kinders van Israel gespreek, en hulle het die vloeker buitekant die laer uitgebring en hom gestenig. En die kinders van Israel het gedoen soos die HERE Moses beveel.