Afrikaans-1933/3/9

25 lines
3.3 KiB
Plaintext

En op die agste dag het Moses en Aäron en sy seuns en die oudstes van Israel geroep.
en vir Aäron gesê: Neem vir jou ʼn bulkalf as sondoffer en ʼn ram as brandoffer, altwee sonder gebrek; en bring hulle voor die aangesig van die HERE.
En spreek met die kinders van Israel en sê: Neem ʼn bokram as sondoffer en ʼn kalf en ʼn lam, altwee eenjaaroud, sonder gebrek, as brandoffer,
ook ʼn bul en ʼn ram as dankoffer om voor die aangesig van die HERE te offer; en spysoffer met olie gemeng; want vandag verskyn die HERE aan julle.
Toe het hulle voor die tent van samekoms gebring wat Moses beveel het. En die hele vergadering het nadergekom en gaan staan voor die aangesig van die HERE.
En Moses het gesê: Dit is die saak wat die HERE julle beveel het om te doen, sodat die heerlikheid van die HERE aan julle kan verskyn.
En Moses het vir Aäron gesê: Kom na die altaar en maak jou sondoffer en jou brandoffer klaar, en doen versoening vir jou en vir die volk, en maak die offer vand ie volk klaar en doen versoening vir hulle soos die HERE beveel het.
Toe het Aäron na die altaar nadergekom en die sondofferkalf geslag wat vir hom bedoel was.
En Aäron se seuns het die bloed na hom nader gebring, en hy het sy vinger in die bloed gedruk en die aan die horings van die altaar gestryk. Daarna het hy die orige bloed aan die onderkant van die altaar uitgegiet.
Maar die vet en die niere en die lap aan die lewer van die sondoffer het hy op die altaar aan die brand gesteek soos die HERE Moses beveel het.
En die vleis en die vel het hy buitekant die laer met vuur verbrand.
Toe het hy die brandoffer geslag, en die seuns van Aäron het vir hom die bloed aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar uitgeooi.
Ook het hulle vir hom die brandoffer volgens sy stukke aangegee, met die kop, en hy het dit aan die brand gesteek op die altaar.
En hy het die binnegoed en die pote gewas en dit aan die brand gesteek bo-op die brandoffer op die altaar.
Daarna het hy die offer van die volk gebring; hy het naamlik die sondofferbok geneem wat vir die volk bedoel was, en dit geslag en dit as sondoffer gebring soos die eerste.
Verder het hy die brandoffer gebring en die klaargemaak volgens voorskrif.
En hy het die spysoffer gebring en ʼn handvol daaruit geneem en dit aan die brand gesteek op die altaar, behalwe nog die môre-brandoffer.
Toe het hy die bul en die ram geslag wat vir die volk as dankoffer bedoel was; en die seuns van Aäron het vir hom die bloed aangegee-wat hy toe rondom teen die altaar uitgegooi het-
en die stukke vet van die bul, en van die ram die vetstert en die netvet en die niere en die lap aan die lewer;
en hulle het die stukke vet op die borsstukke gesit, en hy het die stukke vet op die altaar aan die brand gesteek.
Maar die borsstukke en die regterbouet het Aäron as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg soos Moses beveel het.
Daarna het Aäron sy hande na die volk toe opgehef en hulle geseën. En hy het afgeklim na dat hy die sondoffer en brandoffer en dankoffer gebring het.
Daarop het Moses en Aäron in die tent van samekoms gegaan; en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. En die heerlikheid van die HERE het aan die volk verskyn-
vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval.