Afrikaans-1933/4/6

28 lines
3.5 KiB
Plaintext

En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As ʼn man of ʼn vrou ʼn besondere gelofte aflê, die gelofte van ʼn nasireër, om hom aan die HERE toe te wy,
dan meot hy hom van wyn en sterke drank onthou; wyn-asyn en asyn van sterke drank mag hy nie drink nie en geen vars of gedroogte druiwe eet nie
Al die dae van sy nasireërskap mag hy niks eet van alles wat van die wynstok gemaak is nie, selfs nie van die pitte of doppe nie.
Al die dae van die gelofte van sy nasireërskap mag geen skeermes oor sy hoof gaan nie. Totdat die dae om is dat hy hom aan die HERE toewy, moet hy heilig wees-hy moet die hare van sy hoof vry laat groei.
Al die dae dat hy hom aan die HERE toegewy het, mag hy nie by ʼn dooie kom nie.
Aan sy vader of sy moeder, aan sy broer of sy suster-aan hulle mag hy hom nie verontreinig as hulle dood is nie; want die wyding van sy God is op sy hoof.
Al die dae van sy nasireërskap is hy heilig aan die HERE.
En as heeltemal onverwags iemand by hom sterwe, sodat hy sy gewyde hoof verontreinig, dan moet hy op die dag van sy reiniging sy hoof skeer; op die sewende dag moet hy dit skeer.
En op die agste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester, na die ingang van die tent van samekoms bring.
En die priester moet een as sondoffer en een as brandoffer klaarmaak en vir hom versoening doen vir wat hy uit oorsaak van die gesondig het; so moet hy dan sy hoof op dieselfde dag heilig.
Daarna moet hy die dae van sy nasireërskap aan die HERE toewy en ʼn jaaroud-lam as skuldoffer bring; omdat sy nasireërskap verontreinig is.
En dit is die wet van die nasireër: Op die dag as die dae van sy nasireërskap om is, moet hulle hom na die ingang van die tent van samekoms bring;
en hy moet sy offer aan die HERE bring: een jaaroud-lam sonder gebrek as brandoffer, en een jaaroud-ooilam sonder gebrek as sondoffer en ram sonder gebrek as dankoffer.
en ʼn mandjie ongesuurde koeke van fynmeel, koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk, en die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort.
En die priester moet dit voor die aangesig van die HERE bring en die sondoffer en brandoffer vir hom klaarmaak.
Hy moet ook die ram as dankoffer aan die HERE klaarmaak saam met die mandjie ongesuurde koeke; en die priester moet die spysoffer en die drankoffer vir hom toeberei.
Dan moet die nasireër by die ingang van die tent van samekoms sy gewyde hoof skeer en die hare van sy gewyde hoof neem en dit op die vuur gooi wat onder die dankoffer is.
Verder moet die priester die gekookde blad van die ram af neem en een ongesuurde koek uit die mandjie en een ongesuurde platkoek; en hy moet hulle op die hande vna die nasireër sit nadat dié sy gewyde hare afgeskeer het.
En die priester moet dit beweeg as beweegoffer voor die aangesig van die HERE. Dit is iets heilige vir die priester saam met die bors van die beweegoffer en die bout van die hefoffer. En daarna mag die nasireër wyn drink.
Dit is die wet van die nasireër wat sy offer aan die HERE beloof op gron van sy nasireërskap, behalwe wat hy verder kan bekostig. Volgens sy gelofte wat hy afgelê het, sό moet hy doen volgens die wet van sy nasireërskap.
En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê:
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en vir jou vrede gee.
So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê: en Ék sal hulle seën.