Afrikaans-1933/1/16

17 lines
2.1 KiB
Plaintext

Maar Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het ʼn Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar.
En Sarai het vir Abram gesê: Jy weet die HERE het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister.
Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin - nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het - en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees.
En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy swanger was, het haar juffrou veragtelik in haar oë geword.
En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek het my slavin in jou skoot gegee, en noudat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou.
En Abram antwoord Sarai: Daar's jou slavin in jou hand - doen met haar soos dit goed is in jou oë. Toe het Sarai haar slag behandel, en sy het van haar af weggevlug.
En die Engel van die HERE het haar by ʼn fontein in die woestyn gekry, by die fontein op sie pad na Sur,
en gevra: Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan, en waar gaan jy heen? En sy antwoord: Ek vlug van my juffrou Sarai af weg.
Toe sê die Engel van die HERE vir haar: Gaan terug na jou juffrou en verneder jou onder haar hande.
Verder sê die Engel van die HERE vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.
Ook sê die Engel van die HERE vir haar: Kyk jy is swanger en sal ʼn seun baar, en jy moet hom Ismael noem, want die HERE het jou in jou ellende verhoor.
En hý sal ʼn wilde-esel van ʼn mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon.
En toe noem sy die Naam van die HERE wat met haar gespreek het: U is ʼn God wat sien. Want sy hat gesê: So het ek Hom dan werklik hier van agter gesien wat my sien!
Daarom noem hulle die put, put van Lagai-Roϊ. Die lê daar tussen Kades en Bered.
En Hagar het vir Abram ʼn seun gebaar; en Abram het sy seun, wat Hagar gebaar het, Ismael genoem.
En Abram was ses en tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram gebaar het.