Afrikaans-1933/1/23

21 lines
2.6 KiB
Plaintext

En die lewensdae van Sara was honderd sewen-en-twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara.
En Sara hat gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween.
Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê:
Ek is ʼn vreemdeling en bywoner onder julle. Gee vir my ʼn graf van my eie by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.
Toe antwoord die seuns van Het Abraham en sê vir hom:
Luister na ons, meneer! Jy is ʼn vors van God onder ons. Begraaf jou dode in die beste graf wat ons het: niemand sal jou sy graf weier om jou dode te begrawe nie.
Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk vna die land, voor die seuns van Het;
en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my ʼn goeie word by Efron die seun van Sohar,
dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla waat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle prys gee as ʼn graf van my eie onder julle.
En Efron het tussen die seuns van Het gesit. Toe antwoord Efron, die Hetiet, Abraham voor die ore van die seuns van Het, van almal wat in die poort van sy stad ingaan:
Nee, meneer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan jou; ook die spelonk wat daarin is, dit gee ek aan jou; voor die oë van die seuns van my volk gee ek dit aan jou; begraaf jou dode.
Daarop het Abraham hom gebuig voor die volk van die land
en met Efron gespreek voor die ore van die volk van die land: As dit jy is, ag, luister na my! ek gee geld vir die stuk grond; neem dit van my aan, dat ek my dode daar kan begrawe.
Toe antwoord Efron Abraham en sê vir hom:
Meneer, luister na my. ʼn Stuk grond van vier honderd sikkels silwer - wat is tussen my en jou? Begraaf maar jou dode.
Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het vir Efron die geld afgeweeg waar hy van gespreek het voor die ore van die seuns van Het - vier honderd sikkels silwer gangbaar by die koopman.
So het dan die stuk grond van Efron wat in Magpéla teenoor Mamre lê, die stuk grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond en die ganse gebied daarvan rondom staan,
die eiendom van Abraham geword voor die oë van die kinders van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingaan.
Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla oostelik van Mamre, dit is Hebron in die land Kanaän.
So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van Het aan Abraham afgestaan as ʼn graf van sy eie.