Afrikaans-1933/1/25

35 lines
3.6 KiB
Plaintext

En Abraham het weer ʼn vrou geneem met die naam van Ketúra.
En sy het vir hom Simram en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar.
En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete.
En die Midian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä. Hulle almal was seuns van Ketúra.
En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het,
maar aan die seuns van die bywywe van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland.
En die is die dae van die lewensjaar van Abraham wat hy geleef het: honderd vyf en sewentig jaar.
Abraham het die asem uit geblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.
En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,
die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara.
Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put van Lagai-Roϊ.
En die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het -
dit is die name van die seuns Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam
en Misma en Duma en Massa,
Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.
Dit is die seuns van Ismael, en dit is hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme.
En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewen-en-dertig jaar; en hy het gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.
En hulle het gewoon van Hawila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.
En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak.
En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het.
En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swagner geword het.
En die kinders het teen mekaar gestamp binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarom het sy gegaan om die HERE te raadpleeg.
En die HERE antwoord haar: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.
En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ʼn tweeling in haar skoot.
En die eerste is gebore- rooi, geheel-en-al soos ʼn mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.
En daarna is sy broer gebore terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom is hy Jacob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.
En die seuns het opgegroei: Esau was ʼn jagter, ʼn man van die veld; maar Jacob was ʼn vredeliewende man wat in tente gewoon het.
En Isak het Esau liefgehad, want wildvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jacob liefgehad.
En Jacob het ʼn kooksel klaargemaak, en Esau het moeg uit die veld gekom.
Toe sê Esau vir Jacob: Laat my tog sluk van daardie rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.
En Jacob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.
En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?
Toe aantwoord Jacob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jacob verkoop.
En Jacob het vir Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.