Afrikaans-1933/2/19

26 lines
3.5 KiB
Plaintext

In die derde maand ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipte, op die selfde dag het hulle in die woestyn Sinai gekom-
hulle het by Ráfidim af opgebreek en in die woestyn Sinai gekom en in die woestyn laer opgeslaan. En Israel het daar teenoor die berg laer opgeslaan.
Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So meot jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig:
Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het; en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na my toe gebring het.
As julle nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.
En júlle sal vir My ʼn koninkryk van priesters en ʼn heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet medeel.
En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE beveel het.
Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk an die HERE oorgebring.
En die HERE het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in ʼn dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as EK met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jόu kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die HERE megedeel.
Verder sê die HERE vir Moses: Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre, en laat hulle hul klere was
en hulle klaar hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal die HERE voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal.
Ook moet jy vir die volk ʼn grens rondom aanwys en sê: Pasop dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik doodgemaak word.
Geen hand mag dit aanraak nie; maar hy moet sekerlik gestenig word of sekerlik met ʼn pyl geskiet word; of die ʼn dier of ʼn mens is-hy mag nie lewe nie. As die ramshoring lang geluide blaas, mag hulle op die berg klim.
Toe het Moses van die berg af na die volk gegaan en die volk geheilig, en hulle het hul klere gewas.
En hy het vir die volk gesê: Hou julle klaar teen die derde dag; moenie naby die vrou kom nie.
En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ʼn swaar wolk op die berg en die geluid van ʼn baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het.
Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg.
En die hele berg Sinai het gerook, omdat die HERE in ʼn vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ʼn oond, en die hele berg het vreeslik gebewe.
Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens haardop geantwoord.
Terwyl die HERE op die berg Sinai neerdaal, op die top van die berg, het die HERE Moses na die top van die berg geroep, en Moses het opgeklim.
En die HERE het vir Moses gesê: Klim af, waarsku die volk, dat hulle nie na die HERE toe deurbreek om te sien en dan baie van hulle val nie.
En ook die priesters wat naby die HERE kom, moet hulleself heilig, sodat die HERE nie teen hulle uitbreek nie.
Toe antwoord Moses die HERE: Die volk kan nie op die berg Sinai klim nie, want U het ons self gewaarsku en gesê: Baken die berg af en heilig dit.
Daarop sê die HERE vir hom: Gaan heen, klim af. Dan moet jy en Aäron saam met jou, opklim; maar die priesters en die volk mag nie deurbreek om na die HERE toe op te klim nie, sodat Hy nie teen hulle uitbreek nie.
En Moses het na die volk afgeklim en hulle dit aangesê.