Afrikaans-1933/1/41

22 lines
2.6 KiB
Plaintext

Ná verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy staan by die Nyl;
en kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en vet van vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
En ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat lelik van aansien en maer van vleis was, en hulle het gaan staan by die ander koeie op die wal van die Nyl.
En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword.
En hy het weer aan die slaap geraak en nog ʼn keer gedroom; en kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel;
en ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroeid was;
en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was ʼn droom!
Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit vir Farao uitlê nie.
Toe spreek die voorman van die skinkers met Farao en sê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring.
Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers.
En ons het in dieselfde nag ʼn droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen ʼn droom met besondere betekenis.
En daar was by ons ʼn Hebreeuse jongman, ʼn kneg van die owerste van die lyfwag - aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; van elkeen se droom het hy die uitlegging gegee.
En soos hy ons die uitgelê het, so het dit gebeur - my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang.
Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal en hom geskeer en hom ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.
Toe sê Farao vir Josef: Ek het ʼn droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ʼn droom net hoef te hoor om dit uit te lê.
En Josef antwoord Farao en sê: Nee, nie ek nie! God sal Farao ʼn gunstige antwoord gee.
Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl,
en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
En ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uierlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie.
En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet:
die het in hulle maag ingegaan, maar ʼn mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword.