Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ʼn regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.
maar in die sewende moet jy dit ongebruik en braak laat lê, dat die arm mense van jou volk kan eet; en wat hulle laat oorbly, kan die diere van die veld opeet. So moet jy doen met jou wingerd en jou olyfbome.
Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus, en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep.
En in alles wat Ek julle gesê het, moet julle jul in ag neem. En die naam van ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.
Driemaal in die jaar moet jy vir My ʼn fees hou.
Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek-maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie-;
verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die end van die jaar as jy jou werk uit die land insamel.
Driemaal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here HERE verskyn.
Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.
Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, dan sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.
Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig.
Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan.
Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe.
Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou teveel word nie.
Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.
En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die see van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe.