Merge pull request 'Voeg by Númeri 19:1-22' (#158) from Eunice/Afrikaans-1933:Númeri into master

This commit is contained in:
Eunice van der Merwe 2023-07-04 15:59:23 +02:00 committed by Gitea
parent 78f42ca9b2
commit ea22f5fc4e
1 changed files with 22 additions and 0 deletions

22
4/19 Normal file
View File

@ -0,0 +1,22 @@
Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê:
Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ʼn rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waar geen juk op gekom het nie.
En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buite die laer bring en voor hom slag.
En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewemaal en die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel.
Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand.
En die priester moet sederhout en hisop en skarlaken stof neem en dit binne-in die brand van die koei gooi.
Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees.
Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad en hy sal tot die aand toe onrein wees.
En ʼn rein man moet die as van die koei bymekaar maak en buitekant die laer op ʼn rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel dien om bewaar te word as reiningswater: dit is ʼn sondoffer.
En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en hy sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ʼn ewige insetting wees.
Die een wat aan ʼn doeie, enige lyk van ʼn mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees.
Op die derde dag moet hy hom daarmee ontsondig, en op die sewende dag sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag nie ontsondig nie, dan sal hy op die sewende dag nie rein wees nie.
Elkeen wat aan ʼn dooie raak, aan die lyk van ʼn mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE en dié siel moet uit Israel geroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees; sy onreinheid is nog aan hom.
Dit is die wet: As iemand in ʼn tent sterwe, dan sal elkeen wat in die tent kom en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.
Ook al die oop goed wat nie met ʼn deksel toegebind is nie, is onrein.
En elkeen wat in die oop veld aan iemand raak wat deur die swaard verslaan is, of aan ʼn dooie of aan ʼn mens se doodsbeen of aan ʼn graf, sal sewe dae lank onrein wees.
Vir die onreine moet hulle dan van die as neem van die sondoffer wat verbrand is, en daar vars water in ʼn pot op gooi;
en ʼn rein man moet hisop neem en dit in die water insteek en op die tent sprinkel en op al die goed en op die persone wat daar gewees het; ook op hom wat aan ʼn doodsbeen of aan een wat verslaan is of aan ʼn dooie of aan ʼn graf geraak het.
En die reine moet die onreine op die derde en op die sewende dag besprinkel en hom op die sewende dag ontsondig. Dan moet hy sy klere was en hom in die water bad, en in die aand sal hy rein wees.
Maar as iemand onrein word en hom nie ontsondig nie, dan moet dié siel uitgeroei word uit die vergadering, want hy het die heiligdom van die HERE verontreinig: reinigingswater is op hom nie gegooi nie, hy is onrein.
En dit moet vir hulle ʼn ewige insetting wees. En die een wat die reinigingswater sprinkel, moet sy klere was; en die een wat aan die reinigingswater raak, sal tot die aand toe onrein wees.
Ja alles waar die onreine aan raak, sal onrein wees; en die persoon wat aan hom raak, sal tot die aand toe onrein wees.