Afrikaans-1933/2/2

26 lines
3.4 KiB
Plaintext

En 'n man uit die huis van Levi het gegaan en die dogter van Levi geneem.
En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar en toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek.
Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom 'n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit.
En sy suster het op 'n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur.
En Farao se dogter het na die nyl toe afgegaan om 'n bad te neem terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer loop. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal.
Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was 'n seuntjie wat huil! En sy het jammer vie hom gehad en gesê: dit is een van die kinders van die Hebreërs.
Toe sê sy suster vir Farao se dogter: Sal ek vir u 'n pleegmoeder van die Hebreeuse vroue roep, dat sy vir u die suentjie kan laat drink?
En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep.
Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink, en ek sal jou loon gee.En die vrou het die seuntjie geneem en hom laat drink.
En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek.
En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het het gesien hoe 'n Egipteise man 'n Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan.
En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar dood geslaan en in die sand begrawe.
Die volgende dag het hy weer uitgegaan, en daar was twee Hebreeuse manne wat met mekaar veg. Hy sê toe vir die een wat ongelyk gehad het: Waarom slaan jy jou naaste?
En hy antwoord: Wie het jou as oowerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar dood geslaan het? En Moses het gevrees en gesê: Waarlik, die saak het bekend geword!
En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weg gevlug en in die land van Mídian gaan woon. En hy het by 'n put gesit.
En die priester van Mídian het sewe dogters gehad: dié het gekom om te put en en die drinkbakke vol te maak om om hulle vader se kleinvee te laat drink.
Maar die veewagters het gekom en hulle weggedrywe. Toe staan Moses op en help hulle en laat hulle vee drink.
En toe hulle by hulle vader Réhuel kom, sê hy: Waarom kom julle vandag so gou?
En hulle antwoord: 'n Egiptiese man het ons uit die hand van die veewagters verlos; en hy het ook volop vir ons geput en die vee laat drink.
Daarop sê hy vir sy dogters: En waar is hy? Waarom het julle hom daar laat staan? Roep hom, dat hy brood kan eet.
En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippόra gegee.
En toe sy 'n seun baar, het hy hom Gersom genoem. Want hy het gesê: Ek het 'n vreemdeling in 'n vreemde land geword.
En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep oor hulle slawerny het opgeklim tot God.
En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob.
En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.