Afrikaans-1933/1/42

12 lines
1.4 KiB
Plaintext

Toe Jakob merk dat daar koring in Egipte was, vra Jakob vir sy seuns: Wat kyk julle so na mekaar?
En hy sê: Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek daarheen af en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie.
Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop.
Maar Benjamin, die broer van Josef, het Jakob nie saam met sy broers gestuur nie; want hy het gedink: Altemit kan ʼn ongeluk hom oorkom.
So het die seuns van Israel dan gekom om koring te koop, onder diegene wat daar aangekom het; want daar was hongersnood in die land Kanaän.
En Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die land koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en hulle voor hom met die aangesig na die aarde gebuig.
Sodra Josef sy broers sien, het hy hulle herken, maar hom vreemd teenoor hulle gehou en hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: Waar kom julle vandaan? En hulle antwoord: Uit die land Kanaän om voedsel te koop.
En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie.
Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is.
Maar hulle antwoord hom: Nee, meneer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop.
Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.