Afrikaans-1933/18/10

22 lines
1.9 KiB
Plaintext

Ek walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel.
Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis.
Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn?
Het U vleeslike oë? Of sien U soos ʼn mens sien?
Is u dae soos die dae van ʼn mens? Of u jare soos die dae van ʼn man?
dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde;
ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en wil U my vernietig?
Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?
Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie?
Met vel en vlees het U my beklee, en met bene en senings het U my deurvleg.
Die lewe - ja guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak.
Maar daarby het U dit verberg in u hart, ek weet dat dit u toeleg was:
As ek sou sondig, dan sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
Was ek skuldig - wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos ʼn leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
U sou altyd nuwe getuie teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder - altyd nuwe leërafdelings teen my!
Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat ʼn oog my gesien het.
Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek ʼn bietjie vrolik kan wees;
voordat ek heengaan - en nie terugkom nie - na die land van duisternis en doodskaduwee,
ʼn land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee ʼn skynsel - soos middernag!