Afrikaans-1933/4/5

32 lines
4.7 KiB
Plaintext

En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
Gee bevel aan die kinders van Israel, dat hulle uit die laer wegstuur al die melaatse en almal wat ʼn vloeiing het en almal wat deur ʼn lyk onrein is.
Man sowel as vrou moet julle wegstuur; buitekant die laer moet julle hulle wegstuur, sodat hulle nie hul laer verontreinig waar Ek onder hulle woon nie.
En die kinders van Israel het so gedoen en hulle buitekant die laer gestuur; soos die HERE met Moses gespreke het, so het die kinders van Israel gedoen.
Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
Spreek met die kinders van Israel: As ʼn man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen die HERE gehandel word, en dié siel skuldig word,
dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het, bely; daarna moet hy wat skuldig is, tenvolle teruggee en die vyfde deel daarvan byvoeg, en hy moet die aan dié gee teen wie hy hom skuldig gemaak het.
Maar as die man geen losser het aan wie die skuld teruggegee kan word nie, dan behoort die skuld wat teruggegee moet word, aan die HERE, aan die priester, behalwe die versoeningsram waarmee hy vir hom versoening doen.
En elke heffing van al die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle na die priester bring, moet syne wees.
En elkeen se heilige gawes-dit moet syne wees; wat iemand aan die priester gee, moet syne wees.
Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand se vrou afwyk en ʼn troubreek teen hom begaan,
en ʼn man met haar vleeslike gemeenskap het, maar dit vir die oë van haar man verborge bly en sy nie uitgevind is nie-hoewel sy haar verontreinig het-terwyl daar geen getuie teen haar is en sy nie betrap is nie;
en daar kom ʼn gees van jaloersheid oor hom, sodat hy jaloers word op sy vrou terwyl sy haar inderdaad verontreinig het-terwyl daar geen getuie teen haar is en sy nie betrap is nie;
dan moet die man sy vrou na die priester bring, en hy moet haar offer vir haar saambring: ʼn tiende van ʼn efa garsmeel; hy moet daar geen olie op giet en geen wierook dar byvoeg nie, omdat dit ʼn spysoffer van jaloersheid is, ʼn gedenkoffer wat die ongeregtigheid in gedagtenis bring.
En die priester moet haar laat naderkom en haar stel voor die aangesig van die HERE.
En die preister moet heilige water in ʼn erdepot neem; en van die stof wat op die vloer van die tabernakel is, moet die priester neem en in die water gooi.
Daarna moe tdie priester die vrou voor die aangesig van die HERE stel en die hare van die vrou losmaak, en hy moet die gedenkoffer op haar hande sit-ʼn spysoffer van jaloersheid is dit; en in die hand van die priester moet daar wees die water van bitter smaak wat die vloek bring.
En die priester moet haar besweer en vir die vrou sê: As geen man met jou gemeenskap gehad het nie, en jy, terwyl jy onder jou man staan, nie afgewyk het in onreinheid nie-wees dan vry van hierdie bitter smart wat die vloek bring.
Maar as jy, terwyl jy onder jou man staan, afgewyk en jou verontreinig het deurdat ʼn man behalwe jou eie man met jou vleeslike gemeenskap gehad het....
So moet die priester dan die vrou met die eet van vervloeking besweer, en die priester moet vir die sê: Mag die HERE jou tot ʼn vervloeking en ʼn' verwensing maak onder jou volk deurdat die HERE jou heup laat inval en jou skoot laat opswel;
en mag hierdie water wat die vloek bring in jou ingewande ingaan om die skoot te laat opswel en die heup te laat inval. Dan meot die vrou sê: Amen, amen.
Daarna moet die priester hierdie vervloeking op ʼn blad skrywe en dit in die water van bitter smart uitwis;
en hy moet die vrou laat drink die water van bitter smart wat die vloek bring, soadt die water wat die vloek bring, on haar kan ingaan tot bitter smart.
En die priester moet uit die hand van die vrou die spysoffer van jaloersheid neem en die spysoffer voor die aangesig van die HERE beweeg en dit na die altaar bring.
Die priester moet ook van die spysoffer ʼn handvol, as gedenkoffer daarvan, neem en dit op die altaar aan die brand steek; en daarna moet hy die vrou die water laat drink.
En as hy haar die water laat drink het, dan sal, as sy haar verontreinig en teen haar man troubreuk begaan het, die water wat die vloek bring, as bitter smart in haar ingaan, en haar skoot sal opswel en haar heup inval; en die vrou sal onder haar volk ʼn vervloeking wees.
Maar as die vrou haar nie verontreinig het nie, maar rein is, dan sal sy vry wees en swanger word.
Dit is die wet oor jaloersheid: As ʼn vrou afwyk terwyl sy onder haar man staan en haar verontreinig;
of as oor ʼn man die gees van jaloersheid kom en hy op sy vrou jaloers word-dan meot hy die vrou voor die aangesig vna die HERE stel, en die priester moet met haar handel volgens hierdie hele wet.
En die man moet vry wees van ongeregtigheid, maar dié vrou moer haar ongeregtigheid dra.